Rooi Rose Onderhoud

Maandag 03 Oktober 2011

Nianell, die vrou met die nagtegaalstem wat vanjaar met twee SAMA-toekennings vir haar album Angel Tongue weggestap het, is nie net ‘n sangeres (en ma van ‘n drieling!) nie – sy het ook pas ‘n boek geskryf. Deur Michelle Nortjé

Waarom het jy besluit om ‘n biografie te skryf?  
Ek wou nog altyd boeke skryf en ek skryf al lankal my idees neer, maar ek het gedink ek sal wag tot ek ouer is, so vyftig of sestig, wanneer mense my as meer ervare sou beskou, maar toe kontak Struik my en vra of ek ‘n boek sal skryf, en ek glo as ‘n deur opgaan, stap in. So siedaar! Ek wil niks anders as inspirasie- en motiveringswerke skryf nie. My musiek is so en dit is my passie in die lewe. ‘n Mens skryf maar waarvan jou hart vol is! Ek, soos almal maar, het altyd motivering en inspirasie nodig en soos ek ander motiveer en inspireer, keer dit weer terug na my toe.

Vertel ons meer van om te weet WIE EK IS   
Ons is so geneig om te dink dat ons dit is wat ons hier op aarde doen, bereik of bymekaarmaak. Ons is meestal vasgevang in die vlees en meet ons waarde aan dinge soos hoe ons lyk en waartoe ons in staat is. Deur dit te doen, maak ons die lewe vir onsself baie moeilik en dit is presies wat ek baie jare lank gedoen het. Gelukkig het ek so deur die jare en met baie wyse leermeesters se hulp besef wie ek regtig is en wat my doel hier op aarde is. Ek deel in my boek dit wat ek geleer het en hoe ek geleer het om myself lief te hê. Dit bly maar \’n keuse en elke dag begin met daardie keuse. Ek wil vir my drie dogtertjies net hierdie een belangrike les in die lewe leer: om hul self lief te hê, dan weet ek hulle sal ‘n lewe kan hê wat die moeite werd is. Die enigste manier hoe ons ander iets kan leer, is deur die voorbeeld wat ons stel, en dit is hoekom ek hierdie boek geskryf het. Dit is nie om enigiemand te verander of te oortuig van iets nie, dit is maar net my gids om myself lief te hê en te aanvaar en sodoende ‘n goeie voorbeeld vir my kinders te wees. Die liedjies wat na my toe kom, help my ook ongelooflik baie hiermee en dit is hoekom ek ‘n kompilasie-CD saam met die boek geplaas het met baie van my inspirerende treffers daarop. Musiek was nog altyd my leermeester en daarom is daar ook ‘n hoofstuk oor wat musiek my al in die lewe geleer het. Ek is eerlik en opreg in my skrywe en dit kom met liefde uit my hart.

Het die skryfgogga jou nou gebyt? 
Ek was nog altyd van plan om baie boeke te skryf en is reeds besig met my tweede boek.

Hoe het jy die druk hanteer om tegelykertyd skrywer, sangeres en ma te wees? 

Dit was soms maar baie moeilik. As ek die kinders agtuur saans in die bed gesit het, het ek van agt tot drie-uur soggens geskryf. My man was wonderlik en ondersteunend en het baie aande in die gastekamer gaan slaap sodat hy wel kan slaap. My skryftafel is in ons kamer. My vriendin Ronel (wat by ons bly), en my man het my baie gehelp met die kinders en hulle maak dit altyd vir my moontlik om my drome te volg, ek is baie dankbaar vir die twee engele in my lewe. Ek het ‘n ongelooflike passie vir die lewe en doen waarvoor ek lief is, dus kry ek energie uit wat ek doen. Om met my kinders te speel maak my nie moeg nie, inteendeel, dit gee my nuwe krag en dieselfde geld vir skryf en sing. Ons is ook tot soveel meer in staat as ons aan die Hoof-Kragpunt gekoppel bly.

Watse boodskap probeer jy altyd aan jou aanhangers oordra?  
Wees lief vir jouself, alles begin en eindig daarmee. Jy maak nie net ‘n verskil in jou eie lewe as jy jouself liefhet nie, maar ook in die lewe van ander.

Jy is een van Suid-Afrika se mees geliefkoosde kunstenaars. Was dit nog altyd jou droom om ‘n sangeres te word? 
Dit was nog altyd my droom om te inspireer en te motiveer en ek hou baie daarvan om mense gelukkig te sien. Ek is dankbaar vir die gawe van musiek, want op dié manier kan ek my passie ten volle uitleef en terselfdertyd ook geïnspireerd en gemotiveerd word. Ek hou onsettend baie daarvan om te sing en musiek te skryf en musiek is al van kleintyd af ‘n groot deel van my lewe.

Wie is jou gunsteling-skrywer?  
Ek het ‘n paar: Neale Donald Welsch, Dr. Wayne Dyer, Louise Hay en Luis Falcao. Enige boek wat my iets oor myself leer en my inspireer en motiveer, is ‘n gunsteling in my boekrak. Die wysheid en raad in hierdie skrywers se boeke het my onsettend baie gehelp om te groei en om vas te stel wie ek is. Ek lees altyd ‘n boek so: Ek vat wat vir my werk en ek los die res. Ek nooi mense uit om my boek ook so te lees.

Geniet jy dit om ma te wees? 
Ek is ongelooflik dankbaar dat ek moederskap kan ervaar. Om drie dogtertjies op een slag te kry was \’n wonderwerk wat my net weer laat besef het dat ek nie in beheer is nie, en die drietjies leer my elke dag so ietsie meer van myself en ook van God. Ek is so verlief op hulle en wil elke oomblik saam met hulle vasvang en vir altyd onthou. Ek hou daarvan om saam met hulle te speel en hulle leer my hoe om elke oomblik ten volle te geniet en net te laat los.

Wat is jou resep vir ‘n gebalanseerde lewe? 
My resep vir alles in die lewe is liefde. Liefde vir jouself, want dan gun jy jou alles wat jy nodig het om gebalanseerd te lewe en jy doen dit waarvoor jy lief is. Liefde vir jou medemens en liefde vir God is ook belangrik

Lees artikel op Rooi Rose

Leave a Reply